Skip to content

Reikhalsend, sê ek jou, reikhalsend.

Desember 3, 2012

O

Ons reuse oopplankantoor is tóé onder Kersbome groot en klein en honderde flikkerende liggies is op al die afskortings tussen lessenaars vasgemaak. Ons het die 20ste November reeds die versierings opgesit; die ontvlugting begin hierdie jaar vroeër.  Voel vir my ons is desperaat om weg te kom van die grysblou om ons en deadlines wat opmekaar gestapel lê en loer voordat die maandlange ‘freeze’op die uitrol  van enige rekenaarstelsel aanbreek.

Lekker ou silly season.  Die vlinders begin in my maag wriemel  sodra ek my VK-visum foto’s gaan neem. Wanneer ek by Sandton City inry na die agentskap wat die visumaansoeke hanteer,  maak een of twee vlinders gereed vir opstyg. Die Desembervakansie is om die draai en die voorbereidings is amper so lekker soos die vakansie self.

‘n Week voordat ek ook met vakansie gaan begin ons al die vroeë uitspanners  op kantoor groet. Daar is meer trips na die plaaslike watergat, jaareindfunksie-reminders land omtrent daagliks in ons e-posbusse en mense verdwyn vir lang rukke en kom terug met ritselende rooi sakke vol inkopies.

By die huis haal ek my reistas onder die bed uit en pak die ‘maer’-klere uit. Wintersklere wat moet saam word aangepas en gewas. Nuwe Kersmusiek word afgelaai (maar selde gespeel!), lysies van wat ingepak moet word, word opgestel en  Kersgeskenke  word gekoop (of klaargemaak) en toegedraai.  Die Kersliggies op die stoep word elke aand aangeskakel en ek trek die gordyne wyd oop sodat ek dit ook kan geniet.  In hierdie tyd kyk ek ook “Love Actually”, my gunsteling Kersfeesfliek. Die silly season sal net nie dieselfde wees daarsonder nie.

Twee aande voor my vertrekdatum neem ek vir die familie hul geskenke en word daar geëet en gedrink. Die aand voor die tyd pak ek al die klere wat nie kan kreukel nie in en laai ek die batterye van gadgets wat saamry:  Kindle, kamera, iPod. Net voordat ek gaan slaap doen ek die Virgin Atlantic online check-in.

Die vlinders in my maag begin in formasie vlieg sodra ek my tas in die kattebak laai vir die rit lughawe toe.  Nog net vyftien, sestien uur totdat ek my idee van die hemel betree;  die vlieënier wat sê, “Ladies and gentlemen, we will shortly be landing at Heathrow airport”,  die gawe vlugpersoneel op die binnelandse vlug Edinburgh toe, die grinterige Skotse aksente om my, Micci en Aidan se glimagte in die aankomssaal op Edinburgh-lughawe, sneeu oral, liggies oral, drukkies van Aidan, Starbucks se Gingerbread Latte’s, die Kersmark in Princesstraat, die ysskaatsbaan in die Tuine, die klank van doedelsakke in die koue, ek en Aidan wat in -8 grade Celsius sneeu-engele maak,  Slade wat  “Merry Christmas everybody” op televisie uitbulder, blink kinderoë wanneer Santa aan die voordeur klop, geskenkpapier wat onseremonieël afgepluk word, ‘n Kerstafel wat kreun onder die kos en te veel wyn … wat lei tot ‘n lang middagslapie wat in die stikdonker, rondom 5 namiddag, eindig.

So, ek is reg vir die vakansie. Bring it!

Advertisements

Searching for Sugar Man

Oktober 29, 2012

 

Facebook-vriende weet hoe beindruk ek was met die dokumentêre film, Searching for Sugar Man. Die feëverhaal van Rodriguez, onbekend in sy tuisland en die res van die wêreld maar vreeslik bemind – sonder sy medewete –  in Suid-Afrika in die seventies, het my diep geraak. Soveel so, dat dit behoorlike selfondersoek en ‘n biegsessie tot gevolg gehad het.

Dis nie die feëverhaal-aspek wat my geroer het nie, eerder Rodriguez se aanvaarding van sy situasie en sy absolute nederigheid. Veral laasgenoemde het my my kop in skaamte laat sak. Ek het so gekerm omdat my mees onlangse roman deur die uitgewer se bemarkingscracks geval het, ek nie in die Afrikaanse Skryfgids erkenning kry as een van die eerste Afrikaanse chick lit skrywers nie, omdat omtrent niemand van die boek weet nie en so aan en so voorts.

In die film vra die onderhoudvoerder Rodriguez (‘n kunstenaar ‘n duisend keer my meerdere) hoe hy daaroor voel dat hy en sy plate dit nie gemaak het nie. Hy antwoord met, “There are no guarantees, it’s the music business”. Geen bitterheid, geen trane. En net daar kry ek die boodskap. Skryf weer fiksie, hou maar net aan om jou woorde uit te ryg en hopelik uit te kry na die mark. Dis so eenvoudig want dit gaan oor selfaktualisering.

Van nou af sal ek my bes probeer om geen verwagtinge van erkenning vir my stories te hê nie. Dit gaan nie maklik wees nie, maar ek sal skryf omdat ek regtig nogal leeg voel daarsonder en in die proses hoop ek ‘n klompie mense lees tog my stories en dat hulle iets daaruit kry, al word hulle net vermaak. Kyk wat is Orwell se tweede motivering oor hoekom ‘n skrywer skryf: “Perception of beauty in the external word, or on the other hand, in words and their right arrangement. Pleasure in the impact of one sound on another, in the firmness of good prose or the rhythm of a good story. Desire to share an experience which one feels is valuable and ought not to be missed.”  Dít is my motivering.

Laastens, ek gaan hierdie lyne uit Rodriguez se “Forget It” iewers opplak waar ek dit elke dag kan sien, net vir ingeval:

But I’ve seen your self-pity showing
As the tears rolled down your cheeks

Praat van die mag van kuns! Ek voel bevry nadat ek Searching for Sugar Man gesien het.

Wanneer ek droom, is dit hiervan …

September 30, 2012

Ek het my eerste ernstige seniordoelwit geformuleer: Ek gaan treinry. Hierdie idee laat die romantikus in my se hart vinniger klop.

Terwyl ek nog jonk genoeg is om te boogie en rock shows by te woon, sal ek dit doen, maar ek het die spaarrekening vir my oudagreise reeds geopen.  Want dis hoe ek my op hierdie reise sien; ‘n dame van “‘n sekere ouderdom” in ‘n pastelkleurige snyerspakkie, hofskoene en sykouse aan en knieë netjies teen mekaar. Gesig gepoeier en pienk lipstiffie stylvol aangewend.

Of nie.  Dalk word ek ongrasieus oud en ry trein met my Roger Waters of Bruce Springsteen T-hemde aan en volstaan ek met my gewone rooi lipstiffie, of dit nou in die plooie inbloei of nie.  Dit maak glad nie saak nie, ek gaan treinry en hier is die reise wat ek op my emmerlysie neergeskryf het:

Die Bergenlyn, Noorweë

Die trein het vyf remstelsels om Europa se hoogste treinspoor aan te durf. Die Bergenlyn kronkel van Oslo na Bergen, deur kleurvolle Oos-Noorweegse landboudorpies en strek dan hemelwaarts na die hoë berge van die Hardangervidda plato.   Die Hardangerjøkulen gletser kan ook van naby gesien word.

Swymel hier.

Caledonian Sleeper; ‘n nagtrein.

Wat ‘n droomwoord: Nagtrein. Die Engelse “sleeper” klink nou maar eenmaal nie dieselfde nie. Hierdie reis is boonop binne my bereik. Die Caledonian Sleeper vertrek elke aand van Londen Eustonstasie na Glasgow, Edinburgh, Inverness, Aberdeen en Fort William. Laasgenoemde diens hou die meeste belofte in; dit sluit ‘n volle nag op die trein en ‘n oggend oor asemrowende Hooglandlandskappe in na Fort William, die dorp aan die voet van Brittanje se hoogste bergpiek, Ben Nevis.

Trondheim na Bodo, Noorweë. ‘n Nagtrein met ‘n verskil.

Hierdie trein behoort in die somer geneem te word. Die son gaan skaars onder, wat beteken dat mens nie te veel van die manjifieke Noorweegse landskap om jou mis nie.

Glacier Express

Die stadigste “Express”-trein in die wereld met ‘n gemiddelde spoed van 36 kilometer per uur. Hierdie trein neem jou deur die hart van die Switserse Alpe. Die trein ry oor 291 brue en deur 91 tonnels en gaan oor die Oberalp bergpas, 6 706 voet bo seespieel.  Die kajuite bied panoramiese uitsigte – selfs via die dak. Die rit van St Moritz na Zermatt duur 7 1/2 uur.

Snak hier na jou asem.

Rusland: Golden Eagle Trans-Siberian Express

Die wereld se langste treinreis teen 6 000 myl.  Kajuite het koningsgrootte beddens, ondervloerse verhitting en gaste het ‘n persoonlike butlerdiens. Die trein bied klaarblyklik gemak soos laas in die tyd van die Tsars beleef.

‘n Pianis vermaak gaste in die kroegwa en die kroeg bly oop totdat die laaste gas groet vir die nag.

Die 15-dae reis van Moskou na Vladivostok sluit ook begeleide toere na besienswaardighede in.

Hierdie reis is in potlood op my emmerlysie geskryf. My skip sal beslis moet inkom voordat ek dit kan bekostig.

Beplan hier.

The Royal Scotsman


Myl vir myl blykbaar die duurste treinreis op aarde. Daar is plek vir slegs 36 passassiers in hierdie gerestoureerde vintage trein met sy privaatkajuite van mahoniehoutpanele, ene Eduardiaanse elegansie.  Die observasiewa het gemaklike leunstoele en sofa’s en bied genoeg spasie vir al 36 gelukkige gaste. Die twee restaurante het die atmosfeer van ‘n “gentleman’s club” (soos oorspronklik bedoel; elegant, eksklusief en met die klem op diens) en bied die beste van Skotse cuisine: loch prawns en salm. Die verskeidenheid wyn aangebied word slegs die enkelmoutspyskaart oortref.

Wanneer gaste gaan slaap, trek die trein af vir die nag.

Die beste van hierdie 4-dae rit is, volgens my, sekerlik die landskap waardeur mens reis: lochs, valleie, bergpieke, woude. Die tweede beste sal die Skotse stories wat na ete en oor ‘n glas enkelmout deur Hoogland “clansmen” vertel word, wees. Daar is ook begeleide toere na kastele en ‘n distrilleerdery. Ek moet egter erken, die blink mahoniehoutkajuite klink ook hemels.

Kyk hier.

The Road to the Isles

Die treinrit van Glasgow, Skotland,  na Fort William en verder na Mallaig neem jou deur Brittanje se eensaamste landskappe:  “A wearier looking desert man never saw” is hoe die held in Louis Stevenson’s se roman “Kidnapped” Rannoch Moor beskryf het.   En dit is juis hoekom ek hierdie treinrit wil onderneem; dit spreek tot my melancholiese aard.

The Guardian stel die ervaring van hierdie treinrit so mooi:  Britain at its wildest, loneliest and ­loftiest – the Road to the Isles track reaches 411m. After shedding the city, you hug the banks of Loch ­Lomond, then speed through a drama of ­waterfalls, castle ruins and mountain flanks. The bleak expanses of Rannoch moor are so ­inhospitable that no road dares cross it and the track had to be balanced on a mattress of tree roots, earth and ashes. Later Ben Nevis rears over the line ­before you sweep across a 100ft high viaduct given new fame by its appearance in several Harry Potter films.

Begin die groot verlange hier.

(Terloops, die foto van my by hierdie post is by die Angel  Tube station geneem. Ek hou selfs van moltrein ry!)

Ek rok nog

September 25, 2012

(Hierdie stuk is reeds in 2006 vir Rooi Rose geskryf. Ek plaas dit egter want hoe later, hoe kwater. Nou ”rok” ek eers en ek hoop dit hou vir altyd aan. :))

In ʼn onderhoud sê Annie Proulx, skrywer van onder andere Brokeback Mountain en The Shipping News, dat vroue vanaf ‘n sekere ouderdom onsigbaar word. Pla die onsigbaarheid haar? “Nee glad nie,” sê sy, “dis eintlik wonderlik!”

Ek is skaars verby mid-veertig, maar het die artikel insiggewend gevind. “Dis veral wonderlik wanneer jy daarvan hou om stories bymekaar te maak.” Me Proulx sê dat sy deesdae byvoorbeeld nie meer raakgesien word in diners nie, en dat mense sommer hulle stories met mekaar deel asof sy nie daar is nie. Dít pas haar as skrywer natuurlik soos ‘n handskoen: “Ek het selfs eenkeer gehoor hoe twee mense praat oor ‘n moord wat hulle gepleeg het!”

Interessant, díe skielike onsigbaarheid, het ek gedink en saam met my vriende afgesit na Nelspruit se InniBos-kunstefees vir drie dae van woorde, wyn en musiek. Saterdagaand gaan ons na die Blue Moon toe, waar ‘n klomp jong blues orkeste optree. Saam met ‘n wriemelende mensemassa word ek meegevoer deur Jan Blohm en sy rockmusiek en kort voor lank kap ek dit ook uit voor die verhoog. Net voordat ek van ‘n tentatiewe riel oorgaan na ‘n volbloed een, tik ‘n vinger my op die skouer. Ek swaai om en hier staan Suid-Afrika se antwoord op ‘n jong Brad Pitt voor my, ene blonde lokke en dimpels. Ek trek my maag in.

Die mannetjie se oë blink. “Tannie is so cool! Eendag as ek oud is, wil ek net soos Tannie wees!” skree hy uitbundig. My danslus verdwyn vinniger as wat dit gekom het en ek forseer ‘n glimlag uit. Met ‘n grasieuse wuif in Brad se rigting sukkel ek ‘n paar minute later die graswalle uit, terug na waar my middeljarige vriende in ‘n netjiese ry op hul kampstoeltjies sit. Van hier af, stigtelik aan’t goeie rooiwyn teug, hou ons die verrigtinge dop terwyl ons groottone in ons skoene op maat van die musiek wikkel.

Van toe af beleef ek ‘n krisis. Ek voel oud. Ek verbeel my ek staan skielik uit tussen my jappie IT-spanmaats – nie een van hulle is ouer as ses-en-twintig nie. Ek ‘wen’ hulle met amper twintig jaar. In vergaderings gee ek vir die jongelinge streng kyke as ek nie lus voel vir takies wat hulle na my kant toe probeer uitdeel nie. Ek put ook ‘n sadistiese genot daaruit as hulle vir my opdragte gee terwyl hul tone in die grond boor. En ek glimlag my ysige half-glimlag wanneer een sê hy dink ons moet ter wille van spanbou aksiekrieket gaan speel. Ek hou die glimlag op my gesig vasgeplak totdat hy later self hardop wonder of ʼn sjampanje-ontbyt op die Westcliff se terrasse nie lekkerder sal wees nie.

Daar is ook ander klein jakkalsies op kantoor. Ek kan nie vinnig vir my kollegas iets vra in ons oopplan-kantoor nie. Elkeen sit met ‘n iPod, waardeur hulle na die nuutste treffers luister, in hul ore en al wat ek hoor is ‘n vae doef van die house-musiek van hul keuse. As ek aandag wil hê, moet ek opstaan, tot by die persoon stap en hom dan aanraak, of liggies stamp, voordat hy agterkom dat ek naby is. Ek het hulle nou egter ingehaal deur my eie iPod aan te skaf en hulle hoef nie te weet ek luister Mozart – en soms Jan Blohm – op myne nie.

My krisis maak my oorsensitief vir grappe en onskuldige opmerkings. Ek wip my wanneer ek e-pos grappies van vriende af kry met prentjies van verrimpelde tannies in passievolle pers rokke wat, sigaret in die een hand en glas jenewer-en-tonikum in die ander, een of ander slim aanmerking oor oudword maak. Ek kliek dan summier die Replyknoppie en sê kwaai “ons mag nie privaat e-pos op kantoor ontvang nie”. Maar ek loer gewoonlik eers gou wie anders ook hierdie e-pos gekry het voordat ek dit in die rekenaarasblik gooi – en dis nie lekker as jy die enigste ontvanger is nie.

Nog ‘n ding wat ek opgemerk het is dat mense nie meer sê “Nooit, jy kan nie al in die veertig wees nie … jy lyk dertig!” Waar ek dus in die verlede my ouderdom sommer ongevraag geoffer het, stertswaaiend wagtend op die onvermydelike ongeloof en kompliment, swyg ek deesdae daaroor.

Ek dink egter die oudword-krisis is amper verby. Vroeëer vanaand kry ek ‘n sms van my jappie-baas, die een wat nog ‘n paar jaar moet wag vir sy dertigste verjaarsdagparty. ‘Jys di beste, jy ROK!’ lees ek.

‘Rok’, nè? Ek glimlag ten spyte van my oudedoos-houding teenoor sms-Afrikaans, stuur ‘n lang een in grammaties korrekte taal terug en wonder vlugtig of my rock-dae nou regtig verby is. Ek trek my stemmige donkerblou rok aan, los die lipstiffie op die spieëlkas en pak my pen en notaboekie in my handsak. Vanaand gaan ek na die wilde blouboordjie-sportkroeg hier onder op die hoek. Dalk wag daar vir my ‘n storie.

Genade

September 14, 2012
tags:

Ter wille van my geesteswelstand kyk ek nie meer nuusprogramme nie. Nou die dag sit ek egter op ‘n oefenfiets in die gym na die ry televisieskerms voor my en kyk toe my oog die beelde van slagting en terreur  vang: die krisis in Sirië. En soos dit met hierdie morbiede fassinasie gaan, kry ek my oë nie weggeskeur van die klein skermpie nie en sien ek hoe kinderliggame versigtig op ‘n bakkie, waarop daar reeds ‘n klomp liggaampies lê, gelaai word. Ek sien hoe mense familie en vriende sommer so op straat moet uitken. Groen bodybags word aan die  bokant oopgerits, daar word  na die gesig binne die sak gekyk en dan volg die skokreaksies, ‘n kreet, ‘n kop wat sonder ophou  in ongeloof geskud word . Trane stroom oor wange, ‘n gesig vertrek.  Al hierdie tonele is aaklig maar ek bly kyk.

En toe sien ek dit;  die toneel wat my tot die dag van my dood sal bybly.  ‘n Dokter, grys by die slape, stetoskoop om die nek, laat sak sy gesig in sy hande en sy skouers begin ruk.  Hy huil. ‘n Dokter huil.

Hierdie toneel het lank by my gespook en ek het besef dat ek iets positief hierin sal moet kry om dit draaglik te maak.  Dit is toe dat ek onthou van my vriendin Judy wat so twee jaar gelede met ‘n genadeskip, ‘n hospitaalskip, teen die ooskus van Afrika opgevaar het om pasiente te behandel. Almal wat op die skepe werk is vrywilligers, maar meer as dit, almal betaal vir hul verblyf op die skip, om sodoende meer geld beskikbaar te stel vir waar die nood is, by die arm pasiënte.  Dokters, sjirurge, ingenieurs, bemanning, skoonmakers, kokke, álmal betaal om daar te wees. Judy het talle dokters ontmoet wat boonop hul vakansies op die skip deurgebring het.

Sien, herinner ek myself, daar is geweldenaars en moordenaars onder ons wat wild rondhardloop en verwoestende pyn saai, maar daar is ook mense wat baie opoffer om te help heelmaak. En dít durf ek nie vergeet nie.

www.mercyships.org.za

Die stil middelpunt

September 9, 2012

Die dag toe ek met die iPhone by die kantoor instap was ek vir ‘n paar minute ‘n heldin onder my jonger kollegas.  Hulle het om my ge”oe” en ”aa” oor die sexy, dun stukkie tegnologie in my hand. Hulle was beindruk en ek saam met hulle.  Dit ís ‘n mooi foontjie en kort voor lank wys die jeugdiges entoesiasties vir my hoe ek op die Internet kan rondrits en na my eie musiek kan luister en foto’s kan kyk, alles so tussen die oproepe deur.

Ek was nog altyd van mening dat veral ons werkende Baby Boomers, – dié wat in die vyftigs en sestigs gebore is – die gelukkigste generasie is. Ons het fantastiese veranderings in ons leeftyd gesien, veral wat die tegnologie betref; ons leer deurentyd nuwe vaardighede aan. Die Internet help byvoorbeeld nuwe neurale verbindings tussen ons breinselle vorm en hou ons jonk; ons laai self programme af om foto’s mooier te maak en ons rekenaars virusvry te hou. Ons doen al vir jare ons banksake aanlyn, ons bespreek vliegtuigkaartjies en akkommodasie aanlyn en laai musiek áf en ons eie video’s óp na webwerwe soos YouTube. Te cool vir woorde.

Met Facebook maak ons nuwe vriende met mense so uiteenlopend soos dokters, onderwysers en boere. Hierdie gesprekke maak nuwe wêrelde vir ons oop. Facebook-“stoepkuiers” het regte stoepkuiers vervang en ons kuier aande, selfs nagte om in hierdie virtuele wonderwêreld. Ons vorm ferm vriendskappe met vreemdelinge en gesels oor nuwe dinge; nóg ‘n manier om ons breine se neurale netwerke soepel te hou en só jonk te bly.

Ek en ander oumas leer ook om Skype te bemeester en voordat jy kan sê “tegnologies gestrem” maak ons video-oproepe na Amerika of waar ookal, in ‘n poging om deel te bly van ons oorsese kinders en kleinkinders se lewens.

Boonop werk ek in Inligtingstelsels.  Dubbelgelukkig. Of so het ek gedink, want die dag toe ek my nuwe selfoon kry, begin ‘n reis wat ek nie beplan het nie.

Die oorgang van my ou foon na die iPhone met sy touchscreen is vol stampe, stote en knikke. Ná twee weke se gesukkel om die regte letters op die skermpie raak te druk en woorde wat drie, vier keer oorgetik moet word, ‘n lys Contacts wat op ‘n kritieke tydstip by die werk spoorloos verdwyn en talle onbedoelde oproepe na so ver as Australië smyt ek die foon een aand keelvol op my bedkassie neer.

Dit is tóé  dat ek die stapeltjie half-geleesde boeke werklik raaksien en besef dat my lewe mal geraak het, dat “propvol” en “sinvol” nie noodwendig dieselfde betekenis het nie, dat iets iewers skeefgeloop het en dat my nuwe foon hierdie feit onderstreep.

Ek was byvoorbeeld nog altyd ‘n ywerige leser maar deesdae sukkel ek om ‘n boek klaar te lees; boek ná boek.  Hulle kan mos nie almal vrot wees nie? Wanneer ek wel iets lees kan ek maar min kommentaar lewer, veral as ek dit op die Internet gelees het. Dit voel vir my asof ek sukkel om te konsentreer en wonder of die O-woord my nou getref het. Oud.  Ek ril by die gedagte en begin navorsing doen.

Dit blyk dat die Internet die grootste sondebok is in ons aandag-afleibaarheid. Ons word heeltyd onderbreek deur e-posse, alerts, sms’e en ander boodskappe.  Ons balanseer te veel take en so boet ons aan kreatiwiteit en produktiwiteit in. Hierdie deurlopende onderbrekings, veral wanneer ons op die Net is, het tot gevolg dat ons brein nie die nuwe neurale netwerke stewig in stand kan hou nie.

Die mees kommerwekkende aspek – volgens die Wall Street Journal – is wanneer die kognitiewe effek van die Internet vergelyk word met dié van ‘n vroeëre tegnologie: die boek.  Die Internet met sy grafika, skakels en pop-up advertensies trek ons aandag voortdurend af terwyl die gedrukte bladsy bepeinsing, oordenking en introspeksie aan die hand werk; alles broodnodig vir diep, betekenisvolle denke en verhoogde kreatiwiteit.

Dankbaar dat ek blykbaar nie aan die oudword is nie maar dat my rondhoppende gedagtegang ‘n produk van ons tyd is, neem ek ‘n paar leefstylbesluite.  Eerstens begin ek elke dag by die kantoor met ‘n koffie in die rusarea, digbundel in die hand.  Ek lees een gedig; ek lees gefokus totdat ek dink ek verstaan wat die digter sê.  Eers dán skakel ek my rekenaar aan om op die tegnologiese mallemeule te spring.

In die tweede plek het ek nou ‘n elektroniese sononder.  Teen half-tien saans skakel ek my skootrekenaar en die TV af en my selfoon op Silent.  Ek gaan sit op  my stoep (die regte een van baksteen en sement) en kyk na stadsterre, vliegtuigliggies en soms ‘n satelliet.  Dit is dan dat ek weet daar op hierdie juiste oomblik ‘n digter is wat luister na die klank van roeispane in ‘n stil nag, na vreemde stemme wat in die windlose donker oor die hawemuur na die hawe gedra word.  Of dat iemand nóu na ‘n nagpostrein kyk terwyl dit in ‘n vallei neerdaal met sy vrag; briewe wat dankie sê, briewe wat skinder, briewe wat liefde verklaar, briewe van ooms, tantes en oumas af.

Ek is steeds ‘n Boomer maar ‘n gelukkiger een.  Ek het die roerlose middelpunt van ‘n draaiende wêreld gevind; ‘n donker poel waar dit stil en vreedsaam is.  Dit is hoogs aan te beveel.

(Net voordat ek bed toe gaan, loer ek gou via my foon na Facebook.  Mens kan darem nie op álles uitmis nie.)

(Verskyn gedurende 2011 in rooi rose se Agterstoep)

Na die maan met hierdie gebod

Augustus 12, 2012

Ek het myself pas amptelik toestemming gegee om die tweede gebod te oortree en dit sommer te erken ook. Dis nou die tweede skryfgebod, die een wat sê dat mens elke dag moet skryf en dan verkieslik iets soos (‘n minimum van) ‘n duisend woorde.

Dit lyk my die eerste skryfgebod is “Show, don’t tell” en daarmee het ek nie ‘n probleem nie. Dit maak natuurlik sin. Maar die tweede een? Die een wat deur suksesvolle skrywers soos Stephen King en Anne Lamott neergelê word? Dis die een wat ek nou met ‘n dik koki-pen doodkrap.

Doen ‘n internetsoektog en jy sal baie raad kry oor hoe om daagliks by jou duisend woorde uit te kom. Hier is byvoorbeeld sewe tips. En hier die goeie voornemens van Arthur Slade.  Ek het vir ‘n rukkie ook saam met die Elkedag-Brigade gedraf, ook ‘n spreadsheet (goed, spreitabel) soos Arthur Slade opgestel en probeer vasbyt. Maar die lelike waarheid was, en is steeds, dat ek nie elke dag kán skryf nie.

Ek het ‘n uiters veeleisende werk in die IT-afdeling van een van die groot  banke. Ek werk selde net agt ure per dag en baie dae weet ek nie of ek 5-uur of 8-uur vanaand by die huis gaan kom nie. Enigiets kan gebeur. Die werk is boonop stresvol, wat soms vir slapelose, onkreatiewe nagte sorg. (Maar net voordat julle my jammer kry of ek self in daai put inneuk, lees gerus oor Marissa Mayer, nuwe CEO by Yahoo. Die girl werk 90-uur weke en in die vroeë tye van Google het sy tot 130-weke gewerk, strategies oor wanneer sy stort en slapende onder haar lessenaar. Madness. Maar ek dwaal af, terug na my.)

Ek sit ten minste twee ure per dag in die Johannesburgse verkeer vasgeval. Ek probeer ook ‘n paar maal in die week by die gym uitkom, hoofsaaklik om die lang gesittery teë te werk.  Boonop moet ek tyd maak om te lees en moet ek tyd maak vir dink en musiek luister. Musiek maak my hoog, inspireer my. Ook verpligtend dus.

In hierdie besige program moet ek ook tyd maak om te skryf. Ek moet skryf om normaal te bly, om te voel ek lei ‘n sinvolle lewe. Kortom, ek skryf omdat ek móét.

Die logiese uiteinde van my sparteling was dat ek die tweede gebod bly oortree het en daagliks al hoe skuldiger begin voel het.  Suksesvolle skrywers suggereer (of sê dit sommer pront-uit) dat mens elke dag sal skryf as jy ernstig is oor jou kuns en ambag. Met ander woorde:  Jy daar, ja jý wat nie elke dag skryf nie …  jy is nie ernstig nie. Skryf is slegs maar ‘n stokperdjie vir jou, iets waarmee jy jouself besig hou. Jy sal nooit publiseer nie, want jy is eintlik ‘n wannabe. Kom, kom, keep it real. Skrýf as jy jouself ‘n skrywer wil noem.

Gelukkig het ek ‘n rukkie gelede ‘n artikel deur Kathy Leonard Czepiel in The Writer-tydskrif raakgelees. Dit was al aansporing wat ek wat ek nodig gehad het om vir die bekendes tong uit te steek (nie te ver nie, maar darem) en my aan hulle raad af te vee.

Ek sál skryf  maar ek sal dit op mý manier doen.

Czepiel noem haarself ‘n “Summer-and-Saturday” skrywer, dis wanneer sy skryf. Ek noem myself ‘n naweekskrywer, want dis wanneer ek skryf. Ek stel ‘n doelwit van sê maar tienduisend woorde ‘n maand, dus  tweeduisend ‘n week. Of ek hierdie tweeduisend uitsprei oor die week of almal op ‘n Sondag skryf, maak nie saak nie. Dit voel net meer haalbaar, dus ís dit meer haalbaar.

Jy wonder dalk hoe enige mens ooit iets klaargeskryf kry as hulle so voortdrentel. Wees nie bevrees nie, mens doen. Ek het die laaste tien jaar omtrent veertig kortverhale en artikels asook twee romans klaargekry en is ongeveer halfpad met  my derde roman. Wanneer jou storie jou eers vát sleur die momentum jou mee en sit jy maklik elke aand ná werk vir ure en skryf of oor ‘n naweek tienduisend woorde en inryg;  entoesiasties en geinspireer. Oukei, miskien nie “maklik” nie, maar dit gebeur. En dis vir my baie meer bevredigend as om half aan die slaap, iewers ná 10-uur saans, ‘n duisend woorde te probeer uitkraam.