Skip to content

Na die maan met hierdie gebod

Augustus 12, 2012

Ek het myself pas amptelik toestemming gegee om die tweede gebod te oortree en dit sommer te erken ook. Dis nou die tweede skryfgebod, die een wat sê dat mens elke dag moet skryf en dan verkieslik iets soos (‘n minimum van) ‘n duisend woorde.

Dit lyk my die eerste skryfgebod is “Show, don’t tell” en daarmee het ek nie ‘n probleem nie. Dit maak natuurlik sin. Maar die tweede een? Die een wat deur suksesvolle skrywers soos Stephen King en Anne Lamott neergelê word? Dis die een wat ek nou met ‘n dik koki-pen doodkrap.

Doen ‘n internetsoektog en jy sal baie raad kry oor hoe om daagliks by jou duisend woorde uit te kom. Hier is byvoorbeeld sewe tips. En hier die goeie voornemens van Arthur Slade.  Ek het vir ‘n rukkie ook saam met die Elkedag-Brigade gedraf, ook ‘n spreadsheet (goed, spreitabel) soos Arthur Slade opgestel en probeer vasbyt. Maar die lelike waarheid was, en is steeds, dat ek nie elke dag kán skryf nie.

Ek het ‘n uiters veeleisende werk in die IT-afdeling van een van die groot  banke. Ek werk selde net agt ure per dag en baie dae weet ek nie of ek 5-uur of 8-uur vanaand by die huis gaan kom nie. Enigiets kan gebeur. Die werk is boonop stresvol, wat soms vir slapelose, onkreatiewe nagte sorg. (Maar net voordat julle my jammer kry of ek self in daai put inneuk, lees gerus oor Marissa Mayer, nuwe CEO by Yahoo. Die girl werk 90-uur weke en in die vroeë tye van Google het sy tot 130-weke gewerk, strategies oor wanneer sy stort en slapende onder haar lessenaar. Madness. Maar ek dwaal af, terug na my.)

Ek sit ten minste twee ure per dag in die Johannesburgse verkeer vasgeval. Ek probeer ook ‘n paar maal in die week by die gym uitkom, hoofsaaklik om die lang gesittery teë te werk.  Boonop moet ek tyd maak om te lees en moet ek tyd maak vir dink en musiek luister. Musiek maak my hoog, inspireer my. Ook verpligtend dus.

In hierdie besige program moet ek ook tyd maak om te skryf. Ek moet skryf om normaal te bly, om te voel ek lei ‘n sinvolle lewe. Kortom, ek skryf omdat ek móét.

Die logiese uiteinde van my sparteling was dat ek die tweede gebod bly oortree het en daagliks al hoe skuldiger begin voel het.  Suksesvolle skrywers suggereer (of sê dit sommer pront-uit) dat mens elke dag sal skryf as jy ernstig is oor jou kuns en ambag. Met ander woorde:  Jy daar, ja jý wat nie elke dag skryf nie …  jy is nie ernstig nie. Skryf is slegs maar ‘n stokperdjie vir jou, iets waarmee jy jouself besig hou. Jy sal nooit publiseer nie, want jy is eintlik ‘n wannabe. Kom, kom, keep it real. Skrýf as jy jouself ‘n skrywer wil noem.

Gelukkig het ek ‘n rukkie gelede ‘n artikel deur Kathy Leonard Czepiel in The Writer-tydskrif raakgelees. Dit was al aansporing wat ek wat ek nodig gehad het om vir die bekendes tong uit te steek (nie te ver nie, maar darem) en my aan hulle raad af te vee.

Ek sál skryf  maar ek sal dit op mý manier doen.

Czepiel noem haarself ‘n “Summer-and-Saturday” skrywer, dis wanneer sy skryf. Ek noem myself ‘n naweekskrywer, want dis wanneer ek skryf. Ek stel ‘n doelwit van sê maar tienduisend woorde ‘n maand, dus  tweeduisend ‘n week. Of ek hierdie tweeduisend uitsprei oor die week of almal op ‘n Sondag skryf, maak nie saak nie. Dit voel net meer haalbaar, dus ís dit meer haalbaar.

Jy wonder dalk hoe enige mens ooit iets klaargeskryf kry as hulle so voortdrentel. Wees nie bevrees nie, mens doen. Ek het die laaste tien jaar omtrent veertig kortverhale en artikels asook twee romans klaargekry en is ongeveer halfpad met  my derde roman. Wanneer jou storie jou eers vát sleur die momentum jou mee en sit jy maklik elke aand ná werk vir ure en skryf of oor ‘n naweek tienduisend woorde en inryg;  entoesiasties en geinspireer. Oukei, miskien nie “maklik” nie, maar dit gebeur. En dis vir my baie meer bevredigend as om half aan die slaap, iewers ná 10-uur saans, ‘n duisend woorde te probeer uitkraam.

Advertisements
9 Kommentaar leave one →
  1. Augustus 13, 2012 8:20 AM

    Vir ongeveer een tot twee weke per maand doen ek manuskrip ontwikkeling. Dan skryf ek glad nie. Teen die tyd dat dit agter die rug is, kan ek nie wag om weer aan my eie boek te werk nie. Dis net half sleg as mens so in die laaste derde van die boek is, dan neem dit om twee weke om weer in die storie in te kom en teen daardie tyd hoop die manuskripte al weer op.
    Maar die bottomline: Elke mens skryf soos dit vir hom/haar werk. Ek dink daardie raad is bedoel vir mense wat sê hulle wil eendag ook ‘n boek skryf, maar het nie die tyd nie.
    Lekker skryf Nadia… wanneer dit vir JOU reg is.

  2. Augustus 13, 2012 10:06 AM

    Nee-wat, ek is saam met jou op hierdie ene! 🙂

  3. Augustus 13, 2012 11:22 AM

    Eish! These long cold Winter nights have kept me in bed longer and later, that and the fact that I have a very hot sexy lyfie next to me too…all meant that I have not allowed the creative juices to flow onto my laptop.

    I agree that the wasted effort of attempting to pry, late at night, the creative out of a half asleep mind and tired fingers is totally futile.

    So, let it be said that the (best) writing will happen at the right time, when a confluence of events takes place, be that on the weekend, or that stolen Monday morning, or when the Sun comes out to play again.

    Stay strong and know that you inspired me to continue down the path of writing (even when I had some doubts), and that your words shared here do indeed make a difference.

    • Augustus 13, 2012 4:46 NM

      Mr M, thanks for your kind words. I hope that you are managing to stay strong too. Not long to go now before summer is here. Then you can catch up by getting out of bed at 4am. And ban the sexy lyfie to another room until your project is done… hahaha!

  4. Augustus 13, 2012 2:39 NM

    Nadia, die werklike tweede gebod gaan mos oor jy jou naaste net so lief moet hê soos jouself. Deur elke dag ‘n duisend of so woorde te skryf, dien jy mos jou naaste!! Kom sondaar, laat jy skryf!!! 😛 😛

    • Augustus 13, 2012 4:45 NM

      Me Human, ek trek nog by die gesnede beelde!! 🙂
      (My naaste moet darem nou ook sy deel doen en Afrikaanse boeke begin koop, of wat seg ek?)

  5. Augustus 13, 2012 2:48 NM

    Nadia, as joernalis wat elke dag skryf (ook maar met ‘n daaglikse kwota van 500plus woorde vir die werk), simpatiseer ek met jou. Wat al skryf ek elke dag, is daar niks wat kreatiwiteit só kan smoor soos joernalis wees nie.

    Teen die tyd wat die dag sy einde bereik en ek geskryf het (binne die onkreattiewe raamwerk wat gestel word deur die voorskrifte van ons koerant), oor moord, doodslag en politiek, is my skryfvlammetjie geblus.

    • Augustus 13, 2012 4:43 NM

      Simpatie Marlene, ek wil beslis ook nie elke dag oor moord en doodslag moet skryf nie. Ek weet nie hoe kry julle dit reg nie, maar welgedaan. En daar is seker goed om na uit te sien, soos om lekker artikels (oor iets waarvan jy hou of waarin jy geinteresseer is) te skryf. Good luck!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: