Skip to content

Die stil middelpunt

September 9, 2012

Die dag toe ek met die iPhone by die kantoor instap was ek vir ‘n paar minute ‘n heldin onder my jonger kollegas.  Hulle het om my ge”oe” en ”aa” oor die sexy, dun stukkie tegnologie in my hand. Hulle was beindruk en ek saam met hulle.  Dit ís ‘n mooi foontjie en kort voor lank wys die jeugdiges entoesiasties vir my hoe ek op die Internet kan rondrits en na my eie musiek kan luister en foto’s kan kyk, alles so tussen die oproepe deur.

Ek was nog altyd van mening dat veral ons werkende Baby Boomers, – dié wat in die vyftigs en sestigs gebore is – die gelukkigste generasie is. Ons het fantastiese veranderings in ons leeftyd gesien, veral wat die tegnologie betref; ons leer deurentyd nuwe vaardighede aan. Die Internet help byvoorbeeld nuwe neurale verbindings tussen ons breinselle vorm en hou ons jonk; ons laai self programme af om foto’s mooier te maak en ons rekenaars virusvry te hou. Ons doen al vir jare ons banksake aanlyn, ons bespreek vliegtuigkaartjies en akkommodasie aanlyn en laai musiek áf en ons eie video’s óp na webwerwe soos YouTube. Te cool vir woorde.

Met Facebook maak ons nuwe vriende met mense so uiteenlopend soos dokters, onderwysers en boere. Hierdie gesprekke maak nuwe wêrelde vir ons oop. Facebook-“stoepkuiers” het regte stoepkuiers vervang en ons kuier aande, selfs nagte om in hierdie virtuele wonderwêreld. Ons vorm ferm vriendskappe met vreemdelinge en gesels oor nuwe dinge; nóg ‘n manier om ons breine se neurale netwerke soepel te hou en só jonk te bly.

Ek en ander oumas leer ook om Skype te bemeester en voordat jy kan sê “tegnologies gestrem” maak ons video-oproepe na Amerika of waar ookal, in ‘n poging om deel te bly van ons oorsese kinders en kleinkinders se lewens.

Boonop werk ek in Inligtingstelsels.  Dubbelgelukkig. Of so het ek gedink, want die dag toe ek my nuwe selfoon kry, begin ‘n reis wat ek nie beplan het nie.

Die oorgang van my ou foon na die iPhone met sy touchscreen is vol stampe, stote en knikke. Ná twee weke se gesukkel om die regte letters op die skermpie raak te druk en woorde wat drie, vier keer oorgetik moet word, ‘n lys Contacts wat op ‘n kritieke tydstip by die werk spoorloos verdwyn en talle onbedoelde oproepe na so ver as Australië smyt ek die foon een aand keelvol op my bedkassie neer.

Dit is tóé  dat ek die stapeltjie half-geleesde boeke werklik raaksien en besef dat my lewe mal geraak het, dat “propvol” en “sinvol” nie noodwendig dieselfde betekenis het nie, dat iets iewers skeefgeloop het en dat my nuwe foon hierdie feit onderstreep.

Ek was byvoorbeeld nog altyd ‘n ywerige leser maar deesdae sukkel ek om ‘n boek klaar te lees; boek ná boek.  Hulle kan mos nie almal vrot wees nie? Wanneer ek wel iets lees kan ek maar min kommentaar lewer, veral as ek dit op die Internet gelees het. Dit voel vir my asof ek sukkel om te konsentreer en wonder of die O-woord my nou getref het. Oud.  Ek ril by die gedagte en begin navorsing doen.

Dit blyk dat die Internet die grootste sondebok is in ons aandag-afleibaarheid. Ons word heeltyd onderbreek deur e-posse, alerts, sms’e en ander boodskappe.  Ons balanseer te veel take en so boet ons aan kreatiwiteit en produktiwiteit in. Hierdie deurlopende onderbrekings, veral wanneer ons op die Net is, het tot gevolg dat ons brein nie die nuwe neurale netwerke stewig in stand kan hou nie.

Die mees kommerwekkende aspek – volgens die Wall Street Journal – is wanneer die kognitiewe effek van die Internet vergelyk word met dié van ‘n vroeëre tegnologie: die boek.  Die Internet met sy grafika, skakels en pop-up advertensies trek ons aandag voortdurend af terwyl die gedrukte bladsy bepeinsing, oordenking en introspeksie aan die hand werk; alles broodnodig vir diep, betekenisvolle denke en verhoogde kreatiwiteit.

Dankbaar dat ek blykbaar nie aan die oudword is nie maar dat my rondhoppende gedagtegang ‘n produk van ons tyd is, neem ek ‘n paar leefstylbesluite.  Eerstens begin ek elke dag by die kantoor met ‘n koffie in die rusarea, digbundel in die hand.  Ek lees een gedig; ek lees gefokus totdat ek dink ek verstaan wat die digter sê.  Eers dán skakel ek my rekenaar aan om op die tegnologiese mallemeule te spring.

In die tweede plek het ek nou ‘n elektroniese sononder.  Teen half-tien saans skakel ek my skootrekenaar en die TV af en my selfoon op Silent.  Ek gaan sit op  my stoep (die regte een van baksteen en sement) en kyk na stadsterre, vliegtuigliggies en soms ‘n satelliet.  Dit is dan dat ek weet daar op hierdie juiste oomblik ‘n digter is wat luister na die klank van roeispane in ‘n stil nag, na vreemde stemme wat in die windlose donker oor die hawemuur na die hawe gedra word.  Of dat iemand nóu na ‘n nagpostrein kyk terwyl dit in ‘n vallei neerdaal met sy vrag; briewe wat dankie sê, briewe wat skinder, briewe wat liefde verklaar, briewe van ooms, tantes en oumas af.

Ek is steeds ‘n Boomer maar ‘n gelukkiger een.  Ek het die roerlose middelpunt van ‘n draaiende wêreld gevind; ‘n donker poel waar dit stil en vreedsaam is.  Dit is hoogs aan te beveel.

(Net voordat ek bed toe gaan, loer ek gou via my foon na Facebook.  Mens kan darem nie op álles uitmis nie.)

(Verskyn gedurende 2011 in rooi rose se Agterstoep)

Advertisements
13 Kommentaar leave one →
  1. September 9, 2012 6:58 NM

    Reblogged this on MaanKind and commented:
    Ai, hoe wens ek ek kon dinge soos Nadia verwoord! Hierdie proses is so goed beskryf, ek wil dit graag met almal deel wat haar blog dalk mis.

  2. September 9, 2012 7:01 NM

    Ek hoop nie jy gee om nie, ek het dit ge-Reblog sodat meer mense van jou blog kan bewus word.

  3. Nick van der Westhuizen permalink
    September 9, 2012 7:30 NM

    Mmmmm ge wonder hoekom ek deesdae so ADD is 😉

  4. September 10, 2012 4:45 NM

    Stunning Nadia! Ek stem heeltemal saam, die gewoontes van stilsit en reflekteer met goeie woorde en goeie koffie/wyn word heeltemal afgeskeep. Ek dink ons neurologiese draadwerk lyk almeer soos muisneste! Dit het sy voordele met kreatiewe idees wat op-pop, maar natuurlik … kyk! ‘n Skoenlapper!

  5. colourmecrazee permalink
    September 10, 2012 5:10 NM

    wow nadia – jy kan maar en moet en sal skryf. 😉

    snaaks – alles wat ek vandag lees, is confirmation op dinge wat in my lewe aangaan, so dankie!!

  6. September 11, 2012 12:55 NM

    🙂

  7. September 14, 2012 1:27 NM

    Goeie skrywe en wat jy noem is so waar. Miskien is dit ook net ek, maar dit kom voor asof mense se lewe saam met die tegnologie al hoe meer oppervlakkig en vlietend raak. Kwantiteit van verhoudinge, maar dalende kwaliteit…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: