Skip to content

Ek rok nog

September 25, 2012

(Hierdie stuk is reeds in 2006 vir Rooi Rose geskryf. Ek plaas dit egter want hoe later, hoe kwater. Nou ”rok” ek eers en ek hoop dit hou vir altyd aan. :))

In ʼn onderhoud sê Annie Proulx, skrywer van onder andere Brokeback Mountain en The Shipping News, dat vroue vanaf ‘n sekere ouderdom onsigbaar word. Pla die onsigbaarheid haar? “Nee glad nie,” sê sy, “dis eintlik wonderlik!”

Ek is skaars verby mid-veertig, maar het die artikel insiggewend gevind. “Dis veral wonderlik wanneer jy daarvan hou om stories bymekaar te maak.” Me Proulx sê dat sy deesdae byvoorbeeld nie meer raakgesien word in diners nie, en dat mense sommer hulle stories met mekaar deel asof sy nie daar is nie. Dít pas haar as skrywer natuurlik soos ‘n handskoen: “Ek het selfs eenkeer gehoor hoe twee mense praat oor ‘n moord wat hulle gepleeg het!”

Interessant, díe skielike onsigbaarheid, het ek gedink en saam met my vriende afgesit na Nelspruit se InniBos-kunstefees vir drie dae van woorde, wyn en musiek. Saterdagaand gaan ons na die Blue Moon toe, waar ‘n klomp jong blues orkeste optree. Saam met ‘n wriemelende mensemassa word ek meegevoer deur Jan Blohm en sy rockmusiek en kort voor lank kap ek dit ook uit voor die verhoog. Net voordat ek van ‘n tentatiewe riel oorgaan na ‘n volbloed een, tik ‘n vinger my op die skouer. Ek swaai om en hier staan Suid-Afrika se antwoord op ‘n jong Brad Pitt voor my, ene blonde lokke en dimpels. Ek trek my maag in.

Die mannetjie se oë blink. “Tannie is so cool! Eendag as ek oud is, wil ek net soos Tannie wees!” skree hy uitbundig. My danslus verdwyn vinniger as wat dit gekom het en ek forseer ‘n glimlag uit. Met ‘n grasieuse wuif in Brad se rigting sukkel ek ‘n paar minute later die graswalle uit, terug na waar my middeljarige vriende in ‘n netjiese ry op hul kampstoeltjies sit. Van hier af, stigtelik aan’t goeie rooiwyn teug, hou ons die verrigtinge dop terwyl ons groottone in ons skoene op maat van die musiek wikkel.

Van toe af beleef ek ‘n krisis. Ek voel oud. Ek verbeel my ek staan skielik uit tussen my jappie IT-spanmaats – nie een van hulle is ouer as ses-en-twintig nie. Ek ‘wen’ hulle met amper twintig jaar. In vergaderings gee ek vir die jongelinge streng kyke as ek nie lus voel vir takies wat hulle na my kant toe probeer uitdeel nie. Ek put ook ‘n sadistiese genot daaruit as hulle vir my opdragte gee terwyl hul tone in die grond boor. En ek glimlag my ysige half-glimlag wanneer een sê hy dink ons moet ter wille van spanbou aksiekrieket gaan speel. Ek hou die glimlag op my gesig vasgeplak totdat hy later self hardop wonder of ʼn sjampanje-ontbyt op die Westcliff se terrasse nie lekkerder sal wees nie.

Daar is ook ander klein jakkalsies op kantoor. Ek kan nie vinnig vir my kollegas iets vra in ons oopplan-kantoor nie. Elkeen sit met ‘n iPod, waardeur hulle na die nuutste treffers luister, in hul ore en al wat ek hoor is ‘n vae doef van die house-musiek van hul keuse. As ek aandag wil hê, moet ek opstaan, tot by die persoon stap en hom dan aanraak, of liggies stamp, voordat hy agterkom dat ek naby is. Ek het hulle nou egter ingehaal deur my eie iPod aan te skaf en hulle hoef nie te weet ek luister Mozart – en soms Jan Blohm – op myne nie.

My krisis maak my oorsensitief vir grappe en onskuldige opmerkings. Ek wip my wanneer ek e-pos grappies van vriende af kry met prentjies van verrimpelde tannies in passievolle pers rokke wat, sigaret in die een hand en glas jenewer-en-tonikum in die ander, een of ander slim aanmerking oor oudword maak. Ek kliek dan summier die Replyknoppie en sê kwaai “ons mag nie privaat e-pos op kantoor ontvang nie”. Maar ek loer gewoonlik eers gou wie anders ook hierdie e-pos gekry het voordat ek dit in die rekenaarasblik gooi – en dis nie lekker as jy die enigste ontvanger is nie.

Nog ‘n ding wat ek opgemerk het is dat mense nie meer sê “Nooit, jy kan nie al in die veertig wees nie … jy lyk dertig!” Waar ek dus in die verlede my ouderdom sommer ongevraag geoffer het, stertswaaiend wagtend op die onvermydelike ongeloof en kompliment, swyg ek deesdae daaroor.

Ek dink egter die oudword-krisis is amper verby. Vroeëer vanaand kry ek ‘n sms van my jappie-baas, die een wat nog ‘n paar jaar moet wag vir sy dertigste verjaarsdagparty. ‘Jys di beste, jy ROK!’ lees ek.

‘Rok’, nè? Ek glimlag ten spyte van my oudedoos-houding teenoor sms-Afrikaans, stuur ‘n lang een in grammaties korrekte taal terug en wonder vlugtig of my rock-dae nou regtig verby is. Ek trek my stemmige donkerblou rok aan, los die lipstiffie op die spieëlkas en pak my pen en notaboekie in my handsak. Vanaand gaan ek na die wilde blouboordjie-sportkroeg hier onder op die hoek. Dalk wag daar vir my ‘n storie.

Advertisements
7 Kommentaar leave one →
  1. Nick van der Westhuizen permalink
    September 29, 2012 11:16 NM

    Née wat tannie jy rok.. As daai ou balies en tannies nou al in hulle sestigs nog kan ruk en pluk is jy hulle een voor. En hulle het soul, nie soos die huis musiek se artificial hartklop ritme nie.

  2. Oktober 2, 2012 4:44 NM

    ek het nou lekker gesmile. i know what you mean. dis so weird ne – want ‘n mens voel nog presies dieselfde en ek se altyd, jou smaak gaan mos nie verander nie. ons “rok” ook nog erg. en ja – die tannie ding, ai jai jai … nie lekker nie … 😉

    baie oulik geskryf hierdie – love it ..!!

    • Oktober 2, 2012 5:52 NM

      Dankie. ‘Tannie’ is, soos Wini se, die lelikste woord in Afrikaans.

      • Oktober 2, 2012 5:58 NM

        i know – dit suck big time!!

      • Oktober 2, 2012 6:01 NM

        Like Like Like.
        Nou die naweek by ‘n troue ‘Tannie’ die een kroegmannetjie my (darem het ons later meer aan mekaar gewoond geraak 🙂 ), toe ek vir hom ‘Seun’ begin se. Hy’t gou opgehou.

      • Oktober 2, 2012 6:24 NM

        ek se gewoonlik – nee dude, nee. 😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: