Skip to content

Wanneer ek droom, is dit hiervan …

September 30, 2012

Ek het my eerste ernstige seniordoelwit geformuleer: Ek gaan treinry. Hierdie idee laat die romantikus in my se hart vinniger klop.

Terwyl ek nog jonk genoeg is om te boogie en rock shows by te woon, sal ek dit doen, maar ek het die spaarrekening vir my oudagreise reeds geopen.  Want dis hoe ek my op hierdie reise sien; ‘n dame van “‘n sekere ouderdom” in ‘n pastelkleurige snyerspakkie, hofskoene en sykouse aan en knieë netjies teen mekaar. Gesig gepoeier en pienk lipstiffie stylvol aangewend.

Of nie.  Dalk word ek ongrasieus oud en ry trein met my Roger Waters of Bruce Springsteen T-hemde aan en volstaan ek met my gewone rooi lipstiffie, of dit nou in die plooie inbloei of nie.  Dit maak glad nie saak nie, ek gaan treinry en hier is die reise wat ek op my emmerlysie neergeskryf het:

Die Bergenlyn, Noorweë

Die trein het vyf remstelsels om Europa se hoogste treinspoor aan te durf. Die Bergenlyn kronkel van Oslo na Bergen, deur kleurvolle Oos-Noorweegse landboudorpies en strek dan hemelwaarts na die hoë berge van die Hardangervidda plato.   Die Hardangerjøkulen gletser kan ook van naby gesien word.

Swymel hier.

Caledonian Sleeper; ‘n nagtrein.

Wat ‘n droomwoord: Nagtrein. Die Engelse “sleeper” klink nou maar eenmaal nie dieselfde nie. Hierdie reis is boonop binne my bereik. Die Caledonian Sleeper vertrek elke aand van Londen Eustonstasie na Glasgow, Edinburgh, Inverness, Aberdeen en Fort William. Laasgenoemde diens hou die meeste belofte in; dit sluit ‘n volle nag op die trein en ‘n oggend oor asemrowende Hooglandlandskappe in na Fort William, die dorp aan die voet van Brittanje se hoogste bergpiek, Ben Nevis.

Trondheim na Bodo, Noorweë. ‘n Nagtrein met ‘n verskil.

Hierdie trein behoort in die somer geneem te word. Die son gaan skaars onder, wat beteken dat mens nie te veel van die manjifieke Noorweegse landskap om jou mis nie.

Glacier Express

Die stadigste “Express”-trein in die wereld met ‘n gemiddelde spoed van 36 kilometer per uur. Hierdie trein neem jou deur die hart van die Switserse Alpe. Die trein ry oor 291 brue en deur 91 tonnels en gaan oor die Oberalp bergpas, 6 706 voet bo seespieel.  Die kajuite bied panoramiese uitsigte – selfs via die dak. Die rit van St Moritz na Zermatt duur 7 1/2 uur.

Snak hier na jou asem.

Rusland: Golden Eagle Trans-Siberian Express

Die wereld se langste treinreis teen 6 000 myl.  Kajuite het koningsgrootte beddens, ondervloerse verhitting en gaste het ‘n persoonlike butlerdiens. Die trein bied klaarblyklik gemak soos laas in die tyd van die Tsars beleef.

‘n Pianis vermaak gaste in die kroegwa en die kroeg bly oop totdat die laaste gas groet vir die nag.

Die 15-dae reis van Moskou na Vladivostok sluit ook begeleide toere na besienswaardighede in.

Hierdie reis is in potlood op my emmerlysie geskryf. My skip sal beslis moet inkom voordat ek dit kan bekostig.

Beplan hier.

The Royal Scotsman


Myl vir myl blykbaar die duurste treinreis op aarde. Daar is plek vir slegs 36 passassiers in hierdie gerestoureerde vintage trein met sy privaatkajuite van mahoniehoutpanele, ene Eduardiaanse elegansie.  Die observasiewa het gemaklike leunstoele en sofa’s en bied genoeg spasie vir al 36 gelukkige gaste. Die twee restaurante het die atmosfeer van ‘n “gentleman’s club” (soos oorspronklik bedoel; elegant, eksklusief en met die klem op diens) en bied die beste van Skotse cuisine: loch prawns en salm. Die verskeidenheid wyn aangebied word slegs die enkelmoutspyskaart oortref.

Wanneer gaste gaan slaap, trek die trein af vir die nag.

Die beste van hierdie 4-dae rit is, volgens my, sekerlik die landskap waardeur mens reis: lochs, valleie, bergpieke, woude. Die tweede beste sal die Skotse stories wat na ete en oor ‘n glas enkelmout deur Hoogland “clansmen” vertel word, wees. Daar is ook begeleide toere na kastele en ‘n distrilleerdery. Ek moet egter erken, die blink mahoniehoutkajuite klink ook hemels.

Kyk hier.

The Road to the Isles

Die treinrit van Glasgow, Skotland,  na Fort William en verder na Mallaig neem jou deur Brittanje se eensaamste landskappe:  “A wearier looking desert man never saw” is hoe die held in Louis Stevenson’s se roman “Kidnapped” Rannoch Moor beskryf het.   En dit is juis hoekom ek hierdie treinrit wil onderneem; dit spreek tot my melancholiese aard.

The Guardian stel die ervaring van hierdie treinrit so mooi:  Britain at its wildest, loneliest and ­loftiest – the Road to the Isles track reaches 411m. After shedding the city, you hug the banks of Loch ­Lomond, then speed through a drama of ­waterfalls, castle ruins and mountain flanks. The bleak expanses of Rannoch moor are so ­inhospitable that no road dares cross it and the track had to be balanced on a mattress of tree roots, earth and ashes. Later Ben Nevis rears over the line ­before you sweep across a 100ft high viaduct given new fame by its appearance in several Harry Potter films.

Begin die groot verlange hier.

(Terloops, die foto van my by hierdie post is by die Angel  Tube station geneem. Ek hou selfs van moltrein ry!)

Advertisements
20 Kommentaar leave one →
  1. September 30, 2012 10:02 NM

    Deur Switzerland is ook op my lysie.

  2. Nick van der Westhuizen permalink
    September 30, 2012 10:14 NM

    Moet nie die Outanikwa choo choo vergeet nie, as hy weer loop gaan ek saam. As kinders het ons amper jaarliks oor die berg gery van George na Oudshoorn op pad terug Jhb toe, al klaar n draai deur die Kaap gemaak. Pleke waar die ou stoomtrein so stadig moes loop om die berg oor te kom het ons kinders af gespring en langs geloop. Hoe gaan ek daai storie uit my kop kry, never 🙂

  3. Oktober 1, 2012 8:48 AM

    Is dit hoekom ons almal mal is oor Gert Vlok Nel? Hy sing so mooi van die treine van my jeug. Daar was heelparty treinreise tussen Johannesburg en Swakopmund – 31/2 dae lank. Padkos vir die eerste dag of twee. Daarna die heerlike etes in die eetwa. Later die transkaroo van Johannesburg Kaap toe. Nee, wag, nou gaan ek darem te veel in die verlede in.

    Miskien moet ek weer ‘n treinrit beplan – soveel meer elegansie as om oor die land te blits in ‘n vliegtuig. Dankie, Nadia.

    ns. Mag ek nooit so bedeesd raak dat ek in ‘n pastelkleur snyerspakkie met toe knietjies in die openbaar hoef te verskyn nie.

    • Oktober 1, 2012 6:59 NM

      Oe Lidia, die Transkaroo het my van Pretoria Kaapstad toe en terug geneem toe ek op Stellenbosch geswot het. Op die een rit het ons met ‘n gawe klomp ouens gekuier; saam rugby geluister en saam gesmul aan Ampie, van Namakwaland, se springbokpastei wat sy ma vir die rit ingepak het.
      Dit was regtig lekker.

  4. brieweuitdievreemde permalink
    Oktober 1, 2012 4:39 NM

    Ek sou nie omgee om van Beijing na Moskou te reis nie….

    My ma en haar vriendin is so ‘n paar jaar gelede per trein na die Victoria-valle. Hulle het in De Aar aan boord gegaan en dadelik begin gin & tonic drink… teen die muskiete, het hulle beweer 🙂 Ek stem vir die Bruce Springsteen T-shirt & die rooi lipstiek!

  5. lekkerjeuk permalink
    Oktober 2, 2012 7:50 AM

    Klink lekker, maar miskien sal dit beter wees om sensible skoene te dra wat nie skaaf of knyp nie. Vir lekkerjeuk klink hofskoene na ‘n marteling. ‘n Hoed en ‘n rugsak is ook handig. Ek wil nog eendag die Transcanadian ry.

    • Oktober 2, 2012 11:22 AM

      Netjiese hofskoene of niks! Asseblief tog net nie Crocs of sandale by die sykouse nie. As dit die Springsteen T-shirt en rooi lipstiffie is sal ‘n paar gemaklike maar modieuse Green Cross sandale die ding moet doen. 😉

  6. Oktober 2, 2012 4:41 NM

    do it, do it – lyk fabulous ..!!

  7. Oktober 3, 2012 7:56 NM

    Daar is soveel van ‘n treinreis wat na die siel spreek. Ek onthou nog hoe ek en ‘n pel in St. 7 vanaf Kroonstad stasie oornag na Nelspruit per trein gereis het om op my oom se plaas te gaan kuier. Dit was so ‘n avontuur – voor ons nog op die plaas aangekom het!
    Wonderlike beelde en woorde Nadia!

    • Oktober 3, 2012 8:48 NM

      Dankie, Anton. Ek moet moet moet nou ‘n plan in plek kry om ‘n bank te beroof. Enige werkbare voorstelle? 🙂
      Hoe gaan dit daar?

      • Oktober 6, 2012 2:05 NM

        Hi Nadia, dit gaan heel goed onder omstandighede (ek kry net nie tyd om te skryf nie!). Ek werk ook weer deeltyds (blykbaar is dit veiliger as bankroof), maar vind dit tap maar die energievlakke!

      • Oktober 7, 2012 6:29 NM

        Bly dat dit okay gaan. Ek is ook bly dat jy kan werk, al is dit nog nie maklik nie. Wel nie bly omdat jy nie tyd kry vir skryf nie.

      • Oktober 8, 2012 11:55 AM

        I will be back … :~)

  8. Oktober 5, 2012 12:35 NM

    Ai, man. Hierdie inskrywing laat mens nou droom! Ek dink die GoldenEagle Trans-Siberiese trein is miskien die luukser weergawe van die Trans-Siberiese trein? Ek weet nie. Ek wou baie graag met die Trans-Siberie reis, maar toe kyk ek ‘n dokumenter wat my baie daarvan afgesit het. In die dokumenter, was die fasiliteite baie basies en dronk Russe het die heeltyd die mense lastig geval…
    NS: Hoort die Rovos Rail nie ook op jou lys nie?

  9. Oktober 5, 2012 5:32 NM

    Boer, ek het nogal aan dronk Skotte op die Caledonian Sleeper gedink maar wou nie my eie droom befonkfaai nie. Sal maar saam whisky drink, oorpluisies inprop en gaan slaap 🙂
    Het al op die Transkaroo gery, moet seker die Blou Trein deur die Karoo ook doen. Maar ek verkies bergagtige landskappe, so ek weet nie. Die Blou Trein is oral op Top 10-lyste…

  10. janet permalink
    Junie 28, 2017 6:20 NM

    Halo Nadia. Hierdie is so goed geskryf! Subliem! Die prentjies wat jy aangeheg het gee mens die gevloeg dat drome nie net n droom hoef te bly nie. Dit kan n werlikheid word! Ales van die beste!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: