Skip to content

Reikhalsend, sê ek jou, reikhalsend.

Desember 3, 2012

O

Ons reuse oopplankantoor is tóé onder Kersbome groot en klein en honderde flikkerende liggies is op al die afskortings tussen lessenaars vasgemaak. Ons het die 20ste November reeds die versierings opgesit; die ontvlugting begin hierdie jaar vroeër.  Voel vir my ons is desperaat om weg te kom van die grysblou om ons en deadlines wat opmekaar gestapel lê en loer voordat die maandlange ‘freeze’op die uitrol  van enige rekenaarstelsel aanbreek.

Lekker ou silly season.  Die vlinders begin in my maag wriemel  sodra ek my VK-visum foto’s gaan neem. Wanneer ek by Sandton City inry na die agentskap wat die visumaansoeke hanteer,  maak een of twee vlinders gereed vir opstyg. Die Desembervakansie is om die draai en die voorbereidings is amper so lekker soos die vakansie self.

‘n Week voordat ek ook met vakansie gaan begin ons al die vroeë uitspanners  op kantoor groet. Daar is meer trips na die plaaslike watergat, jaareindfunksie-reminders land omtrent daagliks in ons e-posbusse en mense verdwyn vir lang rukke en kom terug met ritselende rooi sakke vol inkopies.

By die huis haal ek my reistas onder die bed uit en pak die ‘maer’-klere uit. Wintersklere wat moet saam word aangepas en gewas. Nuwe Kersmusiek word afgelaai (maar selde gespeel!), lysies van wat ingepak moet word, word opgestel en  Kersgeskenke  word gekoop (of klaargemaak) en toegedraai.  Die Kersliggies op die stoep word elke aand aangeskakel en ek trek die gordyne wyd oop sodat ek dit ook kan geniet.  In hierdie tyd kyk ek ook “Love Actually”, my gunsteling Kersfeesfliek. Die silly season sal net nie dieselfde wees daarsonder nie.

Twee aande voor my vertrekdatum neem ek vir die familie hul geskenke en word daar geëet en gedrink. Die aand voor die tyd pak ek al die klere wat nie kan kreukel nie in en laai ek die batterye van gadgets wat saamry:  Kindle, kamera, iPod. Net voordat ek gaan slaap doen ek die Virgin Atlantic online check-in.

Die vlinders in my maag begin in formasie vlieg sodra ek my tas in die kattebak laai vir die rit lughawe toe.  Nog net vyftien, sestien uur totdat ek my idee van die hemel betree;  die vlieënier wat sê, “Ladies and gentlemen, we will shortly be landing at Heathrow airport”,  die gawe vlugpersoneel op die binnelandse vlug Edinburgh toe, die grinterige Skotse aksente om my, Micci en Aidan se glimagte in die aankomssaal op Edinburgh-lughawe, sneeu oral, liggies oral, drukkies van Aidan, Starbucks se Gingerbread Latte’s, die Kersmark in Princesstraat, die ysskaatsbaan in die Tuine, die klank van doedelsakke in die koue, ek en Aidan wat in -8 grade Celsius sneeu-engele maak,  Slade wat  “Merry Christmas everybody” op televisie uitbulder, blink kinderoë wanneer Santa aan die voordeur klop, geskenkpapier wat onseremonieël afgepluk word, ‘n Kerstafel wat kreun onder die kos en te veel wyn … wat lei tot ‘n lang middagslapie wat in die stikdonker, rondom 5 namiddag, eindig.

So, ek is reg vir die vakansie. Bring it!

Advertisements
13 Kommentaar leave one →
  1. Desember 3, 2012 4:39 NM

    Jy skryf so mooi, ek wil ook daar wees…

  2. Desember 3, 2012 5:10 NM

    Kersfees gaan oor kinders. Ek is bly jy kan dit (weer) gaan geniet.

    • Desember 3, 2012 6:45 NM

      Dankie Lekkerjeuk. Hierdie Kersfees gaan sommer oor my ook. Ek is darem nou wraggies al baie lus vir ‘n break 😉

  3. Desember 4, 2012 6:11 AM

    Maar hoe gaan jy ‘survive’ sonder daardie ‘morning meetings’? Lekker gelees aan jou dinge. Geniet jou Kersfees-kuier.

    • Desember 4, 2012 7:15 AM

      Kristel, ek gaan BLOM sonder die morning meetings! 🙂 Dankie, ek beplan om lekker te kuier: kort dae en koue, lang nagte is die resep vir goed uitrus. Jy moet jou Kersgety ook geniet xx

  4. Desember 4, 2012 12:01 NM

    Reikhalsend…so ‘n mooi beskrywende Afrikaanse woord. Ek voel jou afwagting aan. Lekker om so uit te sien na iets. 🙂

  5. Desember 4, 2012 2:13 NM

    Geniet dit. Dit het reeds heelwat gesneeu in Skotland tot dusver.

    Groete uit ‘n koue UK.

    • Desember 4, 2012 9:23 NM

      Dankie. My kind (naby Edinburgh) se Facebook status update gisteroggend was ‘n eenvoudige * snow * Ek dink ek is baie meer opgewonde oor die sneeu as sy 🙂

      Kan nie wag nie!

      Groete

      • Desember 5, 2012 12:25 NM

        Plesier. Ja hulle het al lekker baie sneeu daardiekant gekry. Vanoggend het die eerste sneeu hier in die suide geval vir die seisoen. Stansted lughawe was vanoggend gesluit weens die sneeu. Maar so gaan dit elke jaar, Heathrow sluit soms vir dae aaneen as dit swaar gesneeu het. Ek woon al jare hier maar het vanoggend weer met my neus teen die glasdeure staan en uitkyk na die sagte vlokke wat buite val, magic! 😀

  6. Desember 5, 2012 5:55 NM

    ahhh, alles klink fantasties ..!! jy moet dit ongelooflik erg baie geniet ..!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: